Breek in motor met knoppie

2011-07-30 00:22 Beeld  Fanie van Rooyen

“Summary: Ensure car doors LOCK when using your car lock button as criminals hiding close by use household button to override yours and then steel articles lying in car while you are away.  Insurance companies do not pay out as there was no physical break in.”

As jy jou motor met ’n afstandbeheertoestel sluit, maak liefs seker jou deure is wel gesluit voordat jy wegstap.

’n Tendens is weer besig om onder diewe pos te vat om huishoudelike afstandbeheerders te gebruik om die sein van ’n motor se afstandbeheerder te “blok” sodat die motor nie sluit nie.

Twee Beeld-lesers het onlangs onder dié skelmstreek deurgeloop.

Mnr. Hannes van Zyl (42) van Kameeldrift, Pretoria, het vandeesweek vertel sy vrou was op 29 Junie vir ’n troue op pad Witrivier toe en het by die Shell Ultra City-vulstasie in Middelburg stilgehou.

“Sy het kos gekoop en toe sy uitkom, was twee kameras en twee skootrekenaars ter waarde van sowat R40 000 uit die motor wat sy definitief gesluit het, gesteel,” het Van Zyl gesê.

Mev. Van Zyl het die voorval by die Middelburg-polisie aangemeld en het glo dossiere gesien van soortgelyke sake wat die vorige dag aangemeld is.

“Die polisie het vir ons gesê by dié vulstasie is daar gereeld sulke voorvalle,” het Van Zyl gesê.

“Die diewe kruip naby jou motor weg en druk, terwyl jy jou motor-afstandbeheerder druk, gelyktydig die knoppie van ’n gewone huishoudelike afstandbeheerder, soos vir ’n hek of ’n motorhuis. Die gewone afstandbeheerder blok dan die sein van die motor se afstandbeheerder en die motor sluit nie. Die diewe maak dan bloot die deure oop en vat wat hulle wil,” het hy gesê.

Me. Amanda Lopez, ’n distrik-bestuurder van Shell, het gesê verskeie inisiatiewe, soos kringtelevisiekameras en wagte, is by dié vulstasie aan die gang gesit om sulke voorvalle hok te slaan. “Ons werk nou met die polisie saam om dié soort misdaad te bekamp.”

OUTsurance het volgens Van Zyl geweier om vir die gesteelde goed te betaal omdat daar geen teken van ’n inbraak was nie.

Me. Natasha Kawulesar, OUTsurance-woordvoerder, het by navraag gesê OUTsurance is bewus van sulke voorvalle, maar dat dit hul beleid is om nié sodanige eise uit te betaal nie. “Die verantwoordelikheid lê by ons kliënte om self seker te maak hul voertuie is behoorlik gesluit, veral as daar waardevolle items in die voertuig is,” het Kawulesar gesê.

Mnr. Andreas Moll (40) van Bronkhorstspruit het op 14 Julie voor ’n ysterwarewinkel in dié dorp deurgeloop toe sy iPhone uit die paneelkissie gesteel is. Moll het Vodacom gekontak omdat sy foon by hulle verseker was, maar ook dié maatskappy het geweier om uit te betaal omdat daar geen sigbare bewys van die diefstal is nie.

Mnr. Richard Boorman, Vodacom-woordvoerder, het gesê mense moet liefs nie hul selfone in hul voertuie los nie. “Sulke misdade is moeilik, want as daar geen sigbare bewyse van die diefstal is nie, is dit onmoontlik om gevalle van diefstal te skei van gevalle van nalatigheid of bedrog,” het Boorman gesê.

Mnr. Jubie Matlou, woordvoerder van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) wat sulke frekwensies reguleer, het gesê afstandbeheerders vir motors, hekke, alarms en motorhuise is almal kortafstand-toestelle wat frekwensies binne dieselfde grense gebruik. “Die verantwoordelikheid lê by die vervaardigers om seker te maak ander afstandbeheerders kan nie met hul toestelle se frekwensies inmeng nie.”

Leave a Reply

Just another WordPress weblog